Home » Aan die Boer, Vergewe Ons…

Aan die Boer, Vergewe Ons…

Ek is nie ‘n boer nie, ek en my man het ‘n hoewe buite Bloemfontein waar ons met lusern boer en ‘n paar skape het. Vandag was vir my ‘n sielsdodende dag. Ons Damara ram Oupa het vandag net gaan lê. Hy het goeie jare gehad en het vir ons baie dragtige ooie gegee. Ek […]

16-01-16 13:24

Ek is nie ‘n boer nie, ek en my man het ‘n hoewe buite Bloemfontein waar ons met lusern boer en ‘n paar skape het. Vandag was vir my ‘n sielsdodende dag. Ons Damara ram Oupa het vandag net gaan lê.

Drought South Africa

Hy het goeie jare gehad en het vir ons baie dragtige ooie gegee. Ek moes hom sleep in die koelte in want hy kon nie meer staan nie. Hy en ‘n ander ram het baie baklei en ek glo het hy skade aan sy skedel opgedoen. Met dit gesê was hy ook al oud. Hy was nooit honger nie, hy was goed na gekyk, hy het nooit harde tye geken nie. Ek het by hom gesit en huil, mooi met hom gepraat en dankie gesê. Ek het my man gebel en gereel dat ons werker hom uit sy elende haal.

Dit het my laat dink. My hart bloei vir die boer wat sy haelgeweer moet laai en die besluit maak om sy beeste te skiet. Om in die kraal of land in te stap en jammer te sê vir sy skepper dat hy dit nou moet doen, my hart bloei vir die boer. As ek so gevoel het oor een skaap waarna ek moes omsien hoe hartverskeurend is dit nie vir ‘n boer wat sy beeste in die oë moet kyk en saggies jammer vir hul sê voor hy die sneller trek nie. Hoe hartseer jy moet voel om in jou diere se oë te kyk en hul honger te kan aanvoel.

My hart bloei vir die boer wat sy hande in stof druk terwyl hy op sy knieë in sy land is en bid vir reen. My hart bloei vir die boer wat slapelose nagte het en wonder of hy en sy familie ‘n toekoms het. My hart bloei om te dink hoe moeilik dit is om huistoe te gaan en in jou vrou en kinders se oë te kyk so dan bly jy maar nog ‘n paar minute in die land om jouself bymekaar te kry. My hart bloei vir die vrouens van daardie boere wat hulpeloos bystaan en kyk hoe haar man deur hel gaan.

My hart bloei vir die werkers wat nie weet of hulle nog werk gaan hê nie.

My hart bloei vir die diere wat langs die drade afhardloop agter die boer se bakkie aan en smeek vir kos. Die hulpeloosheid wat ‘n boer moet voel terwyl hy sy leë hande optel en se hy het niks nie. Hy het nie kos nie. My hart bloei vir die boer soos hy trane stort en homself verwyt omdat hy nie kan voorsien aan sy diere nie. Die hulpeloosheid moet oorweldigend wees. Die skaamte moet ‘n donker skaduwee oor die boer gooi.

Ek kyk vanaand na my bord en besef dat alles wat op daardie bord is kom van ‘n boer af. Ek besef toe hoe ek nooit net gaan sit het en dankie gesê het vir ons boere nie. Ek het skaam gekry. Ek het gesukkel om te eet. Ek was oorrompel met hartseer.

Boere, vergewe ons. Vergewe ons dat ons nooit besef het watter invloed julle op ons lewens eintlik het nie. Vergewe ons dat ons alles vanselfsprekend neem. Van vleis wat mooi verpak is tot groente wat mooi gewas en vars is. Mense besef nie as hul ‘n produk optel in ‘n winkel hoeveel bloed en sweet in daardie kos ingegaan het nie.

Vergewe ons dat ons dink dat kos ‘n reg is. Dat kos altyd daar sal wees. Ons besef nie dat dit more kan weg wees nie. Vergewe ons dat ons nie besef hoe goed julle vir ons is nie. Ek glo vas julle is die mense in hierdie land wat die minste vra maar die meeste nodig het. Julle maak nooit geraas as dit sleg gaan nie. Julle sak net neer op jul knieë en bid. Jul vertrou dat daar vir jul voorsien sal word.

Ek lees van boere wat in hul krale gaan sit en die sneller trek. Die dood verkies bo die hartseer. “A Captain never leaves his ship they say”. Ek kan nie eers indink hoe desperaat en hartseer ‘n boer moet wees om dit te doen nie. Niemand wil gesien word as ‘n teleurstelling nie. Nie vir sy medemens, sy grond of sy diere nie. Dit maak my hart bitter swaar.

Vergewe ons dat ons net ons koppe skud en julle jammer kry, dat ons ‘n post like sonder om twee keer te dink en dan net aangaan met ons daaglikse lewe. ‘n Like op ‘n post maak nie dat jou diere kos kry nie, ‘n like bring nie reen nie, ‘n like red nie lewens nie. Ons opinies verander nie jou realiteit nie.

Ek voel mense wat nie boere is nie is te bang om eintlik te besef wat aangaan. Ons verkies om nie aan dit te dink nie. Ons gooi n blinde oog. Ons verkies om te glo dat alles “ok” gaan wees. Vergewe ons. Ek dink nie mense wil hartseer wees nie. Soos ek vandag gevoel het oor een dier kan ek nie eers indink hoe ek sou voel oor ‘n kraal of ‘n land vol diere nie.

Vergewe ons dat ons nie jou desperaatheid kan voel nie. Ons weet nie wat dit is om ‘n vrag vol vee net te wil weggee omdat ons nie kos het vir hulle nie. Ons kla oor plante wat in ons tuine doodgaan en oor hoe onregverdig die lewe is. Ons verstaan nie hoe dit voel om in ‘n land te gaan staan in die stof, op te kyk na die hemele en te vra “hoekom” terwyl die hartseer jou oorkom nie. Ons verstaan nie, vergewe ons. Ons verstaan nie die vertoue wat julle toepas nie. Ons kan soveel van julle leer.

Vergewe ons dat ons nie altyd kan help nie. Ons het julle en alles wat julle vir ons doen vanselfsprekend geneem. Boere moet mos dit doen. Dit is julle werk. Vergewe ons arrogansie.

Vergewe ons dat ons nie besef die liefde wat julle het vir die grond waar jul boer nie. Die liefde, deursettingsvermoë en geloof wat dit vat om ‘n land te voed nie.

Ek kyk op na elke boer, groot en klein. Ek wil julle laat weet dat julle in my gebede is. Ek wil julle laat weet dat julle die fondasie van die land is en dat sonder julle ons niks kan doen nie. Hou moed, hulp is oppad. Hou moed, mense bid vir julle. Hulp is oppad! Hou moed, ons het julle nodig

Vergewe ons
Nicole Viljoen

***

This article first appeared on NICOLE VILJOEN’s blog – Nicole Will Write – and is republished here with Nicole’s kind permission.

Nicole ViljoenABOUT NICOLE VILJOEN

Nicole is an animal-lover, based in Bloemfontein, Free State where she is an MC, writer, lyricist, voice-over artist, radio presenter, motivational speaker and entrepreneur.

“I love working with people and reminding them that they are amazing – it doesn’t matter what circumstances they are facing in their lives. Life is too short for regrets.”

Follow her blog: Nicole Will Write

MORE